Eis ná verkragting gaan nie oor geld, sê enkelma

Die jong vrou van Gansbaai wat die minister van veiligheid en sekuriteit dagvaar oor polisienalatigheid nadat sy met haar dogtertjie in haar arms verkrag is twee dae nadat die hof die oortreder op ‘n soortgelyke aanklag vrygelaat het. (Foto: Sharief Jaffer)

23/08/2008 20:21 – (SA)

Marlene Malan

Gansbaai

Met haar huilende kind op haar bors vasgedruk het sy “die heel ergste wat met ’n vrou kan gebeur” verduur en so kalm moontlik probeer bly.

Dié enkelma van Gansbaai (nou 30) is vier jaar gelede drie keer in haar huis verkrag en haar dogtertjie (destyds 5) het weens polisienalatigheid erge sielkundige skade opgedoen.

Dís hoekom sy die minister van veiligheid en sekuriteit, mnr. Charles Nqakula, vir R1,2 miljoen dagvaar – omdat soortgelyke klagte teen een van haar verkragters twee dae voor die aanval op hulle teruggetrek is.

“Die staat moet pa staan. Onskuldige vroue en kinders kan nie ly omdat die polisie te sleg is om hul werk te doen nie.”

Thembelani Sonta (25) is Dinsdag op aanklagte van roof en verkragting skuldig bevind. Hy het hy erken hy het op 29 Oktober 2004 by die vrou se woonstel ingebreek en haar verkrag.

“Hoe kan ek my verskrikking beskryf? My desperate pogings om my kind uit hul kloue te hou? Ek het aanhou sê sy moet haar oë toehou. Ek het geweet as ek haar los, word sy ook aangeval.”

Die vrou se eis spruit daaruit dat Sonta op Kersdag 2003 op klagte van roof, onsedelike aanranding en verkragting in hegtenis geneem is, maar vrygelaat is ondanks verdoemende getuienis teen hom.

Sonta en nog mans het elf mense vasgekeer wat ’n Kersete by ’n woonhuis in Gansbaai gehou het. Hulle het twee vroue “uitgesoek” en hulle verkrag.

Van sy inhegtenisneming, op dieselfde dag, tot September 2004 het Sonta 14 keer in die Hermanus-landdroshof verskyn. Nie één keer was die staat gereed om met die saak voort te gaan nie.

Dit was omdat die polisie nooit ’n uitkenningsparade gereël, ’n DNS-verslag saamgestel of forensiese ondersoeke voltooi het nie, sê haar prokureur, mnr. Johann Roux van Oosthuizen en Kie. in die Paarl.

“Toe Sonta op 27 Oktober 2004 in die hof verskyn en die staat wéér nie gereed was nie, is alle klagte teen hom teruggetrek.”

Die vrou, wie se identiteit ter wille van haar kind weerhou word, sê sy het op 29 Oktober, omstreeks middernag, wakker geword toe iemand by haar badkamervenster inkom. “Ons het by die voordeur probeer uitvlug, maar nog ’n man het ons ingewag.

“Jou beskermingsinstink neem oor. Ek het my dogtertjie teen my vasgedruk toe hulle my op die bed gooi en my verkrag.

“Op ’n keer het sy gesê sy wil badkamer toe gaan, maar ek het gesê sy moet maar net so bly lê. Heeltyd is ons met messe gedreig.”

Een van die aanvallers het later die mikrogolfoond aangesit. Toe die krag uitskop, het hulle gevlug.

Ná nog ’n rooftog, twee dae later, is hulle aangekeer.

“Terwyl my kliënt in trane getuig het, het Sonta gelag,” vertel Roux.

Haar eis gaan nie oor geld nie, sê die vrou.

“Maar die ergste het met ons gebeur.”

Oorsprong:Rapport
http://www.news24.com/Rapport/Nuus/0,,752-795_2381317,00.html

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: