Dorp lewe in vrees

Mnr. Dion Röder (63), ‘n prokureur van Ladysmith, en sy vrou, Talita, nadat hulle deurgeloop het onder ‘n bende huisrowers wat inwoners terroriseer.

10/01/2009 21:28 – (SA)

Gerhard de Bruin

Ladysmith (KwaZulu-Natal)

Bejaarde inwoners van Ladysmith leef in vrees nadat minstens nege egpare die afgelope twee weke onder dieselfde bende huisrowers deurgeloop het.

Só erg is die situasie dat die polisie die afgelope week inderhaas ’n spesiale taakmag op die been gebring het om dit te ondersoek.

Minstens twee vroue is in die roofvoorvalle verkrag en hul mans is glo besonder wreed aangerand.

In een geval is ’n vrou van ouer as 70 jaar die aand voor Kersfees glo deur al sewe haar aanvallers verkrag, terwyl nog een se kakebeen afgeslaan is.

Al die aanvalle het glo in ’n radius van 1 km plaasgevind.

Die eienaars van ’n bekende gastehuis het Dinsdagaand die nuutste slagoffers geword.

In dié voorval is die eienaars van die gastehuis, mnr. Andy en mev. Sheila Breedt, deur vyf mans in hul slaapkamer oorval terwyl hulle geslaap het.

Mev. Breedt is daarna erg aangerand voordat die mans in die gesin se motor en met hul haelgeweer en van hul persoonlike besittings op die vlug geslaan het.

Supt. Sakkie Tredoux, wat aan die hoof van die polisie se spesiale taakspan staan, wou die afgelope week nie veel oor die ondersoek sê nie.

Volgens hom is daar egter duidelike bewyse dat al die rooftogte en aanvalle deur dieselfde groep mans uitgevoer is.

Hy sê van die mans is vermoedelik van ander Afrika-lande afkomstig.

Mense wat al onder die bende deurgeloop het, sê die mans is uiters uitgeslape.

In talle van die gevalle het hulle glo kwaai honde, diefwering en selfs lemmetjiesdraad oorkom om by hul slagoffers se huise in te kom.

Die mans maak blykbaar nie gebruik van vuurwapens nie, maar van messe.

Mnr. Dion Röder (63), ’n prokureur van die dorp, sê hy en sy vrou, Talita, was van die eerste slagoffers toe hulle op 17 Desember in hul huis oorval is.

“My stiefdogter, Michelle (16), wat in Kanada woon, het by ons gekuier.

“Ons almal het net reggemaak om te gaan slaap toe vier mans skielik uit die niet in my slaapkamer verskyn.

“ ’n Geveg het tussen my en hulle uitgebreek, maar hulle het my gou oorweldig en vasgebind.

“Hulle het my vrou daarna geweldig geslaan, onder meer met die vuis.”

Röder sê sy vrou het in ’n stadium bo-oor haar dogter op ’n bed gaan lê om haar te probeer beskerm.

Hy sê hy het by die mans gepleit om hulle nie te verkrag nie.

Die leier van die groep het toe aan hom gesê hulle is nie verkragters nie en het die vroue uitgelos.

Röder sê hy het in al sy jare in die dorp die gemeenskap nog nooit so bang gesien nie.

“Almal koop net alarms en diefwering en registreer by veiligheidsmaatskappye. Ons is nie gewoond aan sulke geweld nie.

“Ladysmith was nog altyd ’n betreklik rustige dorpie,” sê hy.

Kapt. Charmaine Struwig, woordvoerder van die polisie in Ladysmith, sê polisiepatrollies in die dorp is intussen verskerp, terwyl private veiligheidsmaatskappye hulle bystaan.

Niemand is nog in verband met die rooftogte in hegtenis geneem nie.

Oorsprong:Rapport
http://www.news24.com/Rapport/Suid-Afrika/0,,752-2460_2451346,00.html

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: