Kankerlyer met kierie doodgeslaan

Me. Ellen “Moekie” du Plessis.

10/01/2009 21:28 – (SA)

Julian Jansen

Worcester

’n Bejaarde kankerlyer en eienares van ’n bekende bruidsboetiek in Worcester, me. Ellen “Moekie” du Plessis (70), is Maandag in haar huis in die dorp met ’n kierie doodgeslaan.

Twee tieners van 19 en 16 jaar van die Karoodorp Richmond, wat 550 km van Worcester af is, is in verband met die voorval in hegtenis geneem.

Du Plessis het alleen in haar groot huis met sy boomryke tuin naby die Shell Ultra City gewoon.

Sy is deur ’n buurman gevind waar sy sterwend in die huis gelê het.

Mnr. Leon Victor, ’n beampte van die departement van korrektiewe dienste, het die 16-jarige verdagte aangekeer. Die 19-jarige vermeende aanvaller is later gearresteer.

Besittings van Du Plessis, onder meer twee selfone en ’n kamera, is in hul besit gevind. Hulle word ook verbind met ’n inbraak by haar huis op 23 Desember.

Du Plessis het beenmurgkanker gehad en volgens haar seun, mnr. Roan Smit, het sy tot haar dood ook met erge gordelroos gesukkel.

“Tog het Moekie hard in haar huis en tuin gewerk én verbete teen die kanker geveg.

“Hier waar haar bloedkolle nou lê, het jare se bloed en sweet ingegaan.

“Die tuin was haar kerk en sy het oral Bybelversies op plankies in die tuin aangebring.”

Du Plessis se dogter mev. Pat le Roux, wat weens haar ma se siekte die boetiek oorgeneem het, het gesê haar ma het “vir arm en ryk trou-, voorstellings- en dooprokke gemaak, selfs tot by Sutherland en Fraserburg.

“Moekie was ’n goed beneukte vrou, maar baie gelief. Sy het altyd gesê: ‘My kind, ek het armoede geken, ek werk vir die Here se kinders.’

“Maandagoggend het sy my gebel en haar stem vermom. Toe sê sy in ’n diep stem: ‘Mevrou, ek soek ’n trourok.’

“ ’n Halfuur later het die tyding van haar dood gekom.

“Ons familie soek nie wraak nie, maar mens dink net: Wat maak ’n kind van Richmond só dat hy ’n ou vrou so wreed vermoor? Waar is sy ma?

“Ons het gedink dat kanker Moekie sou neem. Nou is sy van ons gesteel.”

Du Plessis laat nog ’n dogter, me. Lente Lourens van Kampala, Uganda, asook twee kleinkinders agter.

’n Verassingsdiens is gister in die Kongregasionalistiese kerk in Worcester gehou.

Gershwin Oliphant (19) verskyn weer op 14 Januarie in die hof in Worcester, terwyl ’n assesseringsverslag vir die 16-jarige afgehandel moet word.

Oorsprong:Rapport
http://www.news24.com/Rapport/Suid-Afrika/0,,752-2460_2451336,00.html

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: