Vermoor toe hy wil help

Motoriste op die N14-hoofweg moes gistermiddag dié toneel aanskou waar mnr. Dieter Furrutter doodgeskiet is.Foto: Herman Verwey

Jan 19 2009 11:12:24:290PM – (SA)

Hilda Fourie

Van onder sy stukkende motor op die N14-hoofweg het mnr. Wolfram Ebel gister die vriend wat hom kom help het hoor skreeu: “Los my uit, los my uit!”

Daarna het Ebel ’n skoot gehoor en mnr. Dieter Furrutter het uitgeroep: “Help, help, ek is geskiet!”

Furrutter, eienaar van Dieter Car Sales in Randburg, is net daar dood. Hy was in sy 60’s.

Ebel, ook in sy 60’s, se Jeep het omstreeks 12:00 op die N14-hoofweg probleme gegee toe hy in die rigting van Pretoria gery het, het konst. Patricia Simelane, polisiewoordvoerder, gesê.

Hy was op pad na Swaziland toe die voertuig sowat 1 km van die R511-afrit, by die Diepsloot-plakkerskamp, gaan staan het. Die Jeep het water en olie gelek.

Ebel het Furrutter, by wie hy die voertuig vroeër gekoop het, gebel en gevra hy moet kom help.

“Terwyl hy gewag het, het mnr. Ebel onder sy voertuig ingeklim om te kyk wat is fout,” het Simelane gesê. “Terwyl hy onder sy voertuig was, het hy gehoor hoe die oorledene sy motor naby syne parkeer. ’n Paar sekondes later het hy gehoor mnr. Furrutter stry met mense.

“Mnr. Furrutter het geskreeu: ‘Los my uit, los my uit!’

“Daarna het mnr. Ebel ’n skoot gehoor en hoe mnr. Furrutter skreeu: ‘Help, help, ek is geskiet!’ ”

Furrutter is in die nek geskiet. Hy is langs sy Mercedes-Benz dood.

Toe Ebel onder die Jeep uitklim, het een van die aanvallers hom gegryp en deurgesoek.

Sonder om hom aan te rand, het hulle met sy selfoon en R3 000 oor die hoofweg in Diepsloot ingehardloop.

Simelane het gesê Ebel weet nie presies of dit drie of vier mans was nie, maar een het ’n blou T-hemp aangehad en nog een ’n swart T-hemp.

Een het ’n handwapen gehad.

’n Verbyganger het die polisie ná die voorval gebel.

Tientalle polisielede en -reserviste is kort ná die voorval in Diepsloot ingestuur in ’n poging om die moordenaars vas te trek.

’n Polisie-helikopter is ook in die soektog gebruik, maar teen druktyd was hulle nog soek.

Ebel het op die toneel ’n verklaring afgelê.

Hy moes toekyk hoe sy vriend se lyk in die lykwa gelaai word. En toe moes hy weer onder sy Jeep inklim om dit te probeer regmaak.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2455782,00.html

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: