G’n sake op hofrol ná drama by klub in Edenvale

Brits in die hospitaal net ná die beweerde aanranding.

Jan 27 2009 09:57:45:120PM – (SA)

Gloria Edwards

Die Germiston-landdroshof aan die Oos-Rand het gister geweier om die strafregtelike sake teen 16 mense, wat Vrydag tydens ’n klopjag van die Ekurhuleni-metropolisie op The Doors-nagklub in Edenvale in hegtenis geneem is, op die rol te plaas.

Insp. Jean Olckers, Edenvale-polisiewoordvoerder, het bevestig die sake teen die 16 mense wat weens dwelmgebruik gearresteer is, is almal teruggetrek.

“Die landdros het besluit om nie die sake op die rol te plaas vir vervolging nie. Geen rede is nog hiervoor verskaf nie.”

Hy het ook bevestig dat geen dwelms by die Edenvale-polisiekantoor ingeboek is nie.

Dit kom nadat insp. Mveli Nhalopo, Ekurhuleni-metropolisiewoordvoerder, gesê het ’n groot hoeveelheid kokaïen, dagga en tik is by dié klub gevind en dat 17 mense gearresteer is.

Beamptes van die Ekurhuleni-metropolisie wat glo lede van die publiek tydens dié klopjag aangerand het, staar nou strafregtelike, siviele en tugklagte in die gesig.

Minstens drie mense is tydens dié klopjag aangerand.

Me. Yolandi Brits van Brakpan aan die Oos-Rand het Beeld meegedeel dat sy ’n siviele eis teen dié gesag gaan instel nadat sy na bewering erg aangerand is toe sy glo net haar ID uit haar motor wou haal. Sy het ook ’n strafregtelike saak by die Edenvale-polisie aanhangig gemaak.

Mnr. Albert van der Bult, haar prokureur, het gister bevestig hulle beplan om met ander slagoffers te vergader.

Brits beweer die beamptes het geweier dat sy haar ID uit haar motor gaan haal en is in die metropolisievangwa gedruk.

“Met die inklim het ek gesien hoe rand hulle ’n ander meisie aan. Ek het hardop gesê: ‘Dis sommer bulls**t en f****d up.’

“Toe word ek aan my voete uit die wa gesleep en in die gesig geskop deur twee vroulike beamptes. Hulle het aangehou om my met die vuiste en plathand regoor my lyf te slaan. ’n Manlike lid het my op die grond vasgedruk. Ek het geskree: ‘Hou op! hou op!’ ”

’n Ruk later is sy glo saam met ander mense wat in die klub was in die vangwa gegooi en na die Edenvale-polisiekantoor geneem vir urine-toetse.

“My toets was negatief en hulle het my laat gaan sonder om my aan te kla. Ek het gevra wat van die aanranding, toe word daar vir my gesê dis my probleem.”

Mnr. Jeff van der Westhuizen en sy vriend, mnr. Lloyd Magill, is ook in hegtenis geneem toe hulle by die nagklub gestop en Van der Westhuizen die aanranding op sy selfoon afgeneem het.

“ ’n Metropolisielid het my gesien en my met ’n vuis in die gesig geslaan en my selfoon gegryp. Hy’t die video uitgevee en my en my vriend sommer in hegtenis geneem, maar toe ons urinetoets negatief terugkom, het hulle ons laat gaan,” het hy gesê. Nhlapo het gesê die aanrandingsbewerings sal intern ondersoek word.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2459896,00.html

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: