Man wat lank by Pta-paar woon, verkrag glo vrou

“Hy was soos ‘n kind in ons huis” ‘n Pretoriase man konfronteer die Mosambieker wat al maande by hom en sy vrou inwoon en wat gisteroggend na bewering sy vrou verkrag het. Foto: Herman Verwey

Mar 13 2009 08:25:41:750PM – (SA)

Fanie van Rooyen

“Is jy dan mal? Ek trust jou dan al die tyd. Jy bly dan by my huis. Jy het my vrou verkrag, man!”

Só het ’n woedende 66-jarige man van Meyerspark in Pretoria gister met rooigehuilde oë sy vrou se verkragter agter in ’n polisievangwa gekonfronteer.

Die man, ’n Mosambieker, het sowat vyf maande lank by hom en sy vrou ingewoon. Hy het die egpaar met herstelwerk in hul huis gehelp.

Hy het die 65-jarige vrou gisteroggend verkrag.

“Ek het hom jammer gekry en vir hom ’n dak oor sy kop gegee en kyk nou,” het die man gesê.

“Ek het selfs vir hom ’n selfoon gegee, sy skoene laat hersool en hom stad toe gery om hom te help om ’n ID te kry. Ek het gíster nog vir hom ’n gros sigarette gekoop.

“Hy was soos ’n kind in ons huis.”

Die verdagte is gisteroggend omstreeks 07:00, kort ná die voorval, skaars ’n blok vanaf dié huis op die hoek van Kent- en Analeesstraat deur lede van die Meyersparkse buurtwag aangekeer.

Twee 9 mm-pistole, juwele en sowat R4 000 kontant, wat hy na bewering uit die egpaar se kluis gesteel het, asook dagga, is by hom gevind.

“Ek was al by die werk toe hulle my bel om te sê my vrou is aangerand,” het die man vertel.

“Toe ek by die huis kom, het my vrou nog op die bed gesit, in ’n absolute toestand.

“Ek het haar gevra wat gebeur het, maar al wat sy kon uitkry, was sy naam.”

Die verdagte se naam mag eers gepubliseer word nadat hy op die verkragtingsklag gepleit het.

“Mettertyd het sy aan ons verduidelik dat sy kombuis toe was en dat sy hom by haar terugkeer na die slaapkamer betrap het waar hy besig was om my pistole uit die kluis te haal.

“Hy het natuurlik geweet waar al die sleutels is en waar alles gebêre word.

“Hy het haar met een van die pistole aangehou en haar hande met maskeerband vasgebind en haar mond toegebind.

“Sy kon nie mooi dink nie, want hy was soos ’n kind hier by ons – en toe verkrag hy haar.”

Daarna het die man die juweliersware en geld bymekaar gemaak en die huis verlaat.

Mnr. Johan van Niekerk, ’n lid van die Meyersparkse buurtwag, het hom egter kort daarna aangekeer. “Die tannie het my erg ontsteld gebel en vertel wat gebeur het.

“Ek het Braam Espach van die buurtwag se radiobeheer gebel en ’n beskrywing van die verdagte deurgegee.

“Toe het ek in die kar gespring en soontoe gejaag en op pad nóg ’n buurtwaglid opgelaai.

“Naby die huis het ons die verdagte in die straat gewaar.”

Kapt. Jan Sepato, polisiewoordvoerder, het gesê klagte van verkragting en diefstal word ondersoek en die verdagte sal Maandag in die Pretoriase landdroshof verskyn.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2485227,00.html

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: