7 keer in sy huis geskiet

Aangerand: mev. Sandra Dreyer

Mar 23 2009 08:12:25:570PM – (SA)

Daniel Maluleke

Enkele maande voordat ’n Pretoriase sakeman vir die eerste keer oupa sou word, is hy sewe keer deur rowers in sy huis geskiet.

Mnr. Johan Dreyer (48) is die naweek voor sy vrou, Sandra (44), vermoor nadat hy hul aanvallers ontglip het om ’n vuurwapen te gaan haal. Sy het vergeefs glase en CD’s na die rowers gegooi.

Die egpaar se hond is gif ingegee.

Dreyer was die eienaar van West Trailer II in Chroomstraat, Proklamasieheuwel, in die weste van Pretoria, en sy huis is op dieselfde terrein.

Saterdagaand het die egpaar nog saam met hul seun, Shaun (24), Shaun se swanger vrou, Lucia (25), sy suster, Carla-Marie (23), en laasgenoemde se kêrel, mnr. Ronnie Spheltema (23), vleis gebraai.

Mnr. Dreyer jr. het gister gesê hy en Lucia het omstreeks 23:30 van die braaiery na hul huis in Montana in die noorde van Pretoria teruggery. “Sowat twee uur later het ons ’n oproep ontvang dat my pa vermoor is.”

Sy ma was by die kroeg in die huis waar die gesin na musiek geluister het toe die vyf rowers toegeslaan het. Sy pa was buite besig om te rook toe drie van die aanvallers hom gegryp en hul vuurwapens teen sy kop gedruk het, terwyl die ander twee buite gewag het.

Die drie het Dreyer na die kroeg geneem en hom herhaaldelik om geld gevra. Hy het aan hulle gesê hulle kan maar alles vat, ook die motors, en gepleit dat hulle niemand vermoor nie.

“My ma het hulle met glase en CD’s gegooi,” het Dreyer jr. gister gesê.

Dreyer het hom hierna uit die aanvallers se greep losgewikkel en gehardloop om ’n wapen in ’n slaapkamer te gaan haal.

Die rowers het sy pa agternagesit en op hom losgebrand.

Dreyer is onder meer in die rug, voet en sy getref en is in die slaapkamer dood.

Die moordenaars het mev. Dreyer daarna aan haar hare gegryp en beveel om hulle te wys waar die geld is.

Hulle het haar met hul pistole aangerand en haar gesig is erg beseer. Die mans het kort hierna met R2 000, twee selfone en ’n handsak gevlug.

Mev. Dreyer is in die Eugène Marais-hospitaal opgeneem.

Die gesin het net ná die voorval besef hul rottweiler is vroeër dié aand gif ingegee.

Die hond is tans in ’n dierekliniek.

Dreyer jr. se vrou is vier en ’n half maande swanger.

“Dit is sy eerste kleinkind, wat hy nooit gaan sien nie,” het Lucia Dreyer gister gesê.

Niemand is nog in verband met die moord in hegtenis geneem nie, het kapt. Bonginkosi Msimango, polisiewoordvoerder, gesê.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2490406,00.html

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: