Twee ma’s omhels by vermoorde se roudiens

Mev. Linda Smit omhels me. Maria Lamola by die roudiens van Smit se enigste seun, Gericke (28). Smit is bykans ‘n week gelede vermoor. Lamola se seun, Jan (27), is een van die drie beskuldigdes wat in hegtenis geneem is weens die moord. Foto: Marietie Louw-Carstens

Jul 23 2009 08:15:55:287PM – (SA)

Marietie Louw-Carstens

Polokwane (Pietersburg). – Die ma van een van mnr. Gericke Smit (28) se vermeende moordenaars het gister bitterlik gehuil terwyl sy mev. Linda Smit by haar seun se roudiens omhels het.

Me. Maria Lamola werk al meer as tien jaar by die Smit-gesin. Lamola se seun, Jan (27), is een van drie mans wat in hegtenis geneem is weens die gru-moord op Smit bykans ’n week gelede.

Mnre. Terence Maredi (25) en Marius Mokgokong (22) is saam met mnr. Lamola in hegtenis geneem ná knap speurwerk deur mnr. Philip Smit, sy neef en prokureur, in samewerking met ’n polisietaakspan.

Mnr. Rampie Smit, bekende prokureur en sakeman van die stad, het Saterdagmiddag op sy seun se bebloede lyk afgekom in een van die geboue in Hans van Rensburgstraat wat hy in die stad besit.

Smit jr. sou bouers by dié gebou gaan betaal toe hy vermoor is.

“Totsiens, my pragtige kind,” het Smit sr. gister huilend gesê toe hy ná die roudiens uit die NG kerk Noord sy hand op sy enigste seun se kis gesit het. Die kis het in ’n wit lykswa voor die kerkgebou gestaan. Mev. Smit het hartverskeurend gehuil toe sy ’n oranje roos en oranje madeliefie op die kis gesit het.

Smit jr. se ouma, mev. Babsie Smit (87), het saggies gehuil toe sy roosblare op haar kleinseun se kis gestrooi het.

Mev. Natasha Visser, die slagoffer se suster, het tydens sy roudiens gesê: “Satan het Gericke se lewe kom steel.”

Sy het gesê haar broer was ’n mens wat vir sy medemens omgegee het en almal se behoeftes bo sy eie gestel het.

“Dit was daardie mense se keuse om te doen wat hulle gedoen het,” het Visser gesê.

Philip Smit het “Amazing Grace” op ’n trompet gespeel.

Hy het daarna gesê hy het gebid dat sy neef hom moet wys wat om tydens die roudiens te sê.

Hy het aangedaan gesê sy neef sou sy pa wou dankie sê vir al die gholfspeel en sy ma omdat sy so ’n goeie ma was en vir al die lekker kos.

Sy suster sou hy bedank vir die wonderlike mens wat sy is en vir sy meisie, me. Carla Nel, sou hy gesê het: “Dankie dat jy so onselfsugtig is. Daar is net een soos jy.

“Gericke sou gesê het vergewe asseblief die manne wat ons van mekaar geskei het. Dit is net my lyf wat dood is, ek lewe nog. Tot ons mekaar weer sien . . .”

Die drie beskuldigdes het vroeër vandeesweek bekentenisse voor landdros Elizabeth Hurter van die Polokwane-landdroshof afgelê.

Hulle beweer hulle het uit selfverdediging opgetree.

Supt. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder, het gesê die drie mans sal waarskynlik vandag eers in die landdroshof in die stad op aanklagte van moord en roof verskyn.

Ngoepe het gesê die polisie volg nog inligting op.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2541423,00.html

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: