Bernadine-saak: Taxi kon maklik verbykom

Percyval Matji

2009-08-21 01:39

Herman Scholtz

Bernadine Kruger het twee keer op haar bromponie van baan verwissel terwyl ’n taxibestuurder agter haar vir haar toeter geblaas het, maar hy het haar telkens gevolg en toe doodgery, het die Pretoriase streekhof gister gehoor.

“Hy’t nie afge-slack nie. En voordat sy kon wegbeweeg het, het hy haar van agter af gestamp.

“Toe ry ons oor haar,” het mnr. Sameul Martins, een van 14 passasiers in die taxi, getuig.

Volgens hom het mnr. Percyval Matji, die taxibestuurder, aanhoudend toeter geblaas en eers sowat 50m aangery nadat hy oor die meisie gery het.

Matji (31) ontken skuld op aanklag van moord op Bernadine (16).

Dit is gemenesaak dat hy op 23 Februarie in Atterburyweg, Pretoria, met ’n wit Toyota Siyaya-minibus teen haar gebots en toe oor haar gery het.

Luidens die verslag van haar nadoodse ondersoek is sy aan omvangryke kopbeserings dood.

Voordat sy raak gery is, het Martins, ’n veiligheidswag, oor Matji se skouer geloer en gesien hy ry “plus-minus 100km/h”.

Hy kon nie Matji maan om stadiger te ry nie, “want die musiek was baie hard”.

Volgens Martins het hulle agter Bernadine in die linkerbaan gery.

Matji het vir haar toeter geblaas en sy het na die regterbaan oorgegaan. Matji het haar na die regterbaan gevolg.

“Toe het sy weer links probeer beweeg. Toe’t (Matji) net aangehou ry.”

Dis toe dat Matji haar tref, het Martins getuig.

Sr.supt. Danie Poolman, ’n deskundige in die herkonstrukturering van ongelukke, het getuig Matji kon Bernadine se dood voorkom het.

Hy het Bernadine se 125cc-bromponie ondersoek en met behulp van rekenaarsagteware ’n rekonstruksie van die ongeluk gemaak.

Al die feite dui volgens hom daarop dat Bernadine oomblikke voor die impak van die regterbaan na links begin beweeg het.

Dit word gestaaf deur die skade aan die taxi, die bromponie en die dinamika van die voertuie.

Bernadine is naby aan die stippellyn tussen die twee bane vir verkeer in ’n oostelike rigting getref.

“Dit sou ’n gaping van 290cm vir die Toyota gelos het om veilig aan die regterkant verby die motorfiets te ry,” lui sy verslag.

Weens die verskil in momentum van die taxi en die motorfiets is dit nie moontlik om vas te stel hoe vinnig die taxi gery het toe dit Bernadine getref het nie.

Die saak is tot 31 Augustus uitgestel vir slotbetoë.

‘Net mal of dronk mens sal dít doen’

Net ’n mal of ’n dronk mens sal dít doen waarvan die staat hom beskuldig, het mnr. Percyval Matji gister aan die Pretoriase streekhof gesê.

Hy ontken hy het die opset gehad om Bernadine Kruger van haar bromponie af te ry voordat hy bo-oor haar gery het.

“Ek dra nie die soort hart wat iemand sal doodmaak nie.”

Matji het getuig hy het ook nie “aanhoudend” toeter geblaas soos al die staatsgetuies gesê het nie.

“Ek het nie getel hoeveel keer nie, want ek was deurmekaar,” het hy tydens kruisverhoor gesê.

Sy weergawe is dat Bernadine in die linkerbaan was en hy in die regterbaan. Hy het haar begin verbygaan terwyl hulle parallel aan mekaar gery het. Matji het vir blindekolle gekyk en “ewe skielik” was die bromponie voor hom in die regterbaan, het hy getuig.

“Onmiddellik nadat sy reg voor my was, het ek remme aangeslaan, maar sy was te naby.

“As jy ’n vrag vol passasiers het, kan die taxi nie onmiddellik tot stilstand kom nie.”

Dié weergawe is aan sr.supt. Danie Poolman van die polisie gestel, maar hy het gesê die feite dui op die teendeel.

“Ek weet nie of sy van links na regs beweeg het nie, maar by die oomblik van impak was sy besig om van regs na links te beweeg en die feit is dat daar genoeg spasie was om haar veilig verby te steek.”

Matji ontken ook die staat se weergawe dat hy te vinnig gery het. Volgens hom het hy “tussen 60km/h en 65km/h” gery.

Hy het ook nie ná die ongeluk eers aangery nie, maar dadelik stilgehou. Die voertuig is geskuif om uit die pad van ’n ander voertuig te kom, het Matji getuig.

Adv. Sanet van Rensburg het hom gevra of die staatsgetuies enige motiewe het om te lieg.

“Net hulle sal in hul harte weet wat hul motiewe is,” het hy gesê.

Streeklanddros Edmund Patterson wou by Matji weet of hy spoed voor die ongeluk verminder het en Matji het tóé gesê hy het “dieselfde spoed gehou”.

Van Rensburg het dit ook aan hom gestel dat sy weergawe van gebeure verskeie kere tydens sy getuienis aangepas is. Matji, wat die heeltyd met gevoude arms getuig het, het volgehou daar was geen bedoeling om Bernadine te tref nie. Die verdediging het ná sy getuienis sy saak gesluit.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/fac3c4a14b4f494f9093acac30ab96c3/21-08-2009%2001-08/Bernadine-saak_Taxi_kon_maklik_verbykom

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: