Wes-Beeld: ‘Ek speel nie,’ toe skiet hy

2009-08-15 21:03

Marié Pieterse

Veertig minute. Dit is hoe lank Corna Hibbert (40) van Blairgowrie se nagmerrie geduur het.

Haar huis is gestroop in ’n gewapende rooftog, sy is geskiet, met ’n strykyster gebrand en moes toekyk hoe haar kinders en huiswerker vasgebind en hulle almal gedreig word.

Corna is 1,81 m lank, ’n oud-Suid-Transvaalse netbalspeler en ’n oud- Engels- onderwyser aan die Hoërskool Linden.

Die dag van 16 Julie was ’n gewone dag in haar lewe. Sy het haar kinders by die skool gaan haal en vir hulle middagete gegee.

Haar man, Jimmy, het om 13:00 gebel en gevra sy moet asseblief vir hom ’n inkhouer na die familiebakkery, Not Bread Alone, in Malibongwerylaan in Linden-uitbreiding bring.

Hul twee kinders, Jaco (8) en Marnique (6), het in ouma Alet Faure se kothuis TV gekyk en die huishulp Charity Ncube het vir Corna die hek oopgemaak sodat sy kon uitry. Twee netjies geklede mans het in die straat afgekom met boeke van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en ’n SAID-knyperbord en gesê daar is probleme met die bakkery se belasting.

Sy het Jimmy se nommer aan hulle gegee en gesê hulle kan hom bel.

“Hulle was baie arrogant en wou net seker maak of my man by die huis is. Toe pluk die een die hek toe, gryp die bakkie se sleutel en toe kom die guns uit.”

Sy en Charity is elkeen vergesel van ’n aanvaller die huis in met ’n pistool teen die kop. Binne het sy gehoor hoe fluit haar aanvaller vir sy makkers in die straat.

Corna sê die man is reguit slaapkamer toe met haar en wou spesifiek die bakkery se geld van Donderdag, Vrydag en Saterdag hê. Hy het bly dreig dat sy moet geld gee. “Ek het naderhand gesê ek wens ek het geld gehad om vir hulle te gee.”

Saam met die dreigemente is ’n warm strykyster ingespan en sy is op haar pols gebrand toe sy vir haar gesig gekeer het.

Toe die kinders die huis binnekom op soek na iets om te eet, wou Jaco dadelik weet wie die mense is en of hulle van die polisie is. Jaco se aanhoudende vrae het die mans geïrriteer en Corna moes hom stilmaak.

Corna is met ’n elektriese koord in die slaapkamer vasgebind. Sy is van haar juwele gestroop en die rowers het die kaste begin leegmaak.

Een aanvaller het ’n pistool langs haar gerig, gesê hy speel nie speletjies nie en die sneller getrek. Die koeël is onder Corna se regterskouer-bladbeen in en het 20 cm na onder langs haar werwelkolom getrek voor dit uit is.

“Dis ’n snaakse geluid. Eers toe ek die patroondoppie op die vloer sien lê en die bloed sien, het ek besef ek is geskiet.”

Toe die aanvallers met hul bakkie vertrek, het Corna Jimmy van die landlyn in die kothuis gebel. Jimmy het op sy selfoon gekyk. Dit was presies 40 minute ná sy vorige oproep.

’n Polisiereservis wat die blou Toyota Venture voor die Hibberts se huurhuis in Barkstonrylaan sien staan het, het die registrasienommer gememoriseer. Die voertuig is nog dieselfde dag in Alexandra gevind.

Die aand ná die voorval het die gesin in ’n hotel gaan slaap. Klein Jaco het gebid en vir die Here dankie gesê vir sy ma se lewe en die aanvallers vergewe en gevra dat hul harte verander.

Vandat Corna weer terug is in die bakkery sê sy: “Hier kom so baie mense wat met my kan identifiseer.”

Terwyl sy God se goedheid beleef, is daar ook ’n woede wat in haar opstaan oor die land en dié situasie. Sy voel elke dag ’n bietjie beter en sy weet daar is nou baie mense wat vir die aanvallers bid en hulle vergewe.

# Insp. Bokkie Keulder, woordvoerder van die Lindense polisiekantoor, sê die saak word deur ’n trio-taakspan ondersoek en is nog baie sensitief.

# Jadd Harding, voorsitter van die Lindense gemeenskapspolisiëringsforum, sê mense moet altyd eerste die 0 10111-polisie-noodnommer bel om hulp te ontbied. In ’n mediese noodgeval stel hy voor mense bel ook dadelik ’n mediese nooddiens.

Corna se droom

Voor die aanval het Corna gedroom van Ps. 116:4: “Maar ek het die Naam van die Here aangeroep: Ag, Here, red my siel .”

“Toe ek die Psalm lees, het ek gedink dit gaan oor die dood en ek het nie gevoel daar is iets wat my lewe bedreig nie.”

Tydens die aanval het sy saggies op die mat gesit en die woorde sit en bid.

“Die Here het my voorberei. Ek het ook gebid: ‘Ek sal nie sterwe nie, maar lewe en die werke van die Here vertel.’(Ps. 118:17).”

Die rower se woorde

Die aanvaller het vir Corna gesê: “Ek is nie bang om jou dood te skiet nie. Ek is nie bang vir die polisie nie en ek is nie bang vir God nie.”

“Hulle was arrogant en selfvoldaan. Jy het geweet dit was nie hul eerste keer nie”.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Streekkoerante/Nuus/1984/da27fd576454435a812c3aac863730ed/15-08-2009%2009-08/Wes-Beeld_Ek_speel_nie,_toe_skiet_hy

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: