Bly of gly? SA se toekoms lyk donker


Deur Heinrich B Zaayman

2009-11-06

Al die streke van die ANC-regering in die verlede, insluitende Thabo Mbeki se rassepolitiek, begin vaal en onskuldig lyk teen die huidige tendens wat waargeneem kan word as mens die koerante lees. Dit lyk of die regering al hoe meer in die rigting van sosialisme begin beweeg, en nie die goeie soort soos dit in Europa toegepas word nie, maar die kommunistiese soort.

Die SAKP en Cosatu se rol in, en voorwaardes vir samewerking mét die ANC, begin al hoe swaarder weeg, en dus beweeg die regering al hoe verder van gesonde ekonomiese beginsels af. Voeg daarby die rol wat Julius Malema speel, en dit begin lyk na ‘n gevaarlike chemiese konkoksie wat kritiese massa kan bereik.

Dit, gekombineer met al die ander probleme wat ontstaan het as gevolg van die regering se onvermoë om die land te bestuur, gaan eersdaags harde vrae stel aan almal wat nog in SA sit, en dink en hoop dit gaan beter word. Hierdie uitdaging bestaan uit die volgende:

1. Alhoewel nasionalisering van die myne al in Mandela se tyd van die agenda geskraap is, het Malema begin met ‘n sterk dryf om dit weer daar te kry, en dit lyk wat Baba wil hê, sal Baba kry. Soos met Cosatu en die SAKP, moet die ANC-leiers nou gebuk gaan onder dreigemente van die Jeugliga ook. Maar, as dit nie nasionalisering is wat die myne gaan tot niet maak nie, gaan dit die voorgestelde verhoging in Eskom se tariewe wees.

2. Die effek wat Eskom se voorgestelde verhoging in elektrisiteitstariewe op die land en sy ekonomie gaan hê, is skrikwekkend, en moontlik die enkele grootste faktor om te oorweeg om nou SA te verlaat. Die mynwese wat nog steeds die enkele grootste bydrae tot binnelandse produk is, gaan nie meer winsgewend bedryf kan word nie, en baie sal moontlik moet sluit, met die gepaardgaande verlies aan werk vir duisende mense en die effek op die betalingsbalans. Vervaardigingskoste gaan styg en SA se vermoë om te kompeteer lamlê, en dus gaan uitvoere daal, en kommoditeitspryse deur die dak klim. Inflasie gaan ongekende hoogtes bereik en les bes gaan die Rand se waarde met rasse skrede daal. Dit, nadat hulle self vir Eskom in die grond in bestuur het, en vir jare op die probleem gesit en slaap het.

3. Die finansiële tekorte in Munisipaliteite moet nie onderskat word nie. SA se platteland is besig om te versuip aan ‘n gebrek aan geld, onkunde en onvermoë, en die infrastruktuur is besig om uitmekaar te val. Plattelandse SA is vinnig besig om derde-wêreld Afrika te word. Dit noop die regering om drastiese planne te maak, en die roete wat hulle inslaan is nog meer skrikwekkend – sentralisering van mag. Dit beteken die hele land in al sy sfere van regering word uit die parlement, en uiteindelik Shell House regeer. (Dan raak hulle sommer ontslae van die DA en opposisie in die enkel munisipaliteite wat hulle nie bestuur nie) Dus gaan die proletariaat buig en ly voor die oppergesag van die party op alle vlakke van die samelewing. Die enigste manier om die tekorte in Munisipaliteite aan te vul is deur bykomende belasting te hef, afgesien van die reusagtige bedrae wat reeds aan munisipaliteite gegee word.

4. Die ANC begin al hoe meer besef dat belasting ‘n handige kontant-melkmasjien is om hulle foute en gemors te finansier. Die verantwoordelike minister wil nou selfs die SABC finansier deur belastingheffings van 1% op inkomste. Dit raak maklik – stel net ‘n belastingheffing in.

Dus, met Eskom se verhogings, belasting vir onder andere die SABC, belastingfinansiering van die Munisipale gemors, wegholinflasie, ‘n dalende Rand en ‘n negatiewe betalingsbalans – wat gaan oorbly van middelvlak Suid Afrikaners se hoë lewenstyl? Groter armoede beteken groter rede vir kriminaliteit en dus nog meer misdaad.

Die ANC en sy ondersteuners het nog altyd gedroom daarvan dat SA volwaardig deel word van Afrika. Hulle het eers probeer om die staatsdiensamptenare almal swart te maak, deur BEE-vereistes aan die privaatsektor te stel, toe het hulle begin straat- en plekname verander. Maar dit het nie heeltemal gewerk nie, want die ekonomie het nog staande gebly. Nou het hulle egter die resep gekry, en na 2010 se sokker extravaganza, gaan SA se verval met erns begin en gaan dit regtig deel word van Afrika. Ons het so ‘n paar jaar terug op ‘n hogere dinee vir ‘n senior ANC-amptenaar gevra of hulle nie bekommerd is as standaarde so agteruitgaan nie? Sy antwoord was: “Nee, dit kan maar agteruitgaan tot op ‘n vlak waar dit vir ons maklik bestuurbaar is.” Dit is soos Afrika werk. Solank die maghebbers lekker lewe, kan die mense maar swaarkry en sukkel.

Miskien moet al die lojaliste net weer dink voor hulle onvoorwaardelik in die NSA bly sit en hoop en droom oor beter dae. Die beter dae is reeds verby, en nou word die water regtig warm.

Oorsprong:Litnet Senet
http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=77147&cat_id=160
http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=77146&cat_id=160

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: