Egpaar met byl oorval kortná polisie klagtes aanhoor

2010-02-12 15:19

Alta Snyman

Twee dae nadat hy aan ’n superintendent van die polisie gesê het die polisie gaan eers op die gemeenskap se klagtes ag slaan as iets ergs gebeur, is ’n man van Groot Marico baie erg beseer toe hy en sy vrou met ’n byl in hul plaashuis aangeval is.

Mnr. Ben von Brandis (54), ’n leiklipgroefeienaar van Broekmansfontein by Rietvaly, en sy vrou, Gail (50), het geslaap toe hulle gister omstreeks 04:00 deur drie mans in hul slaapkamer oorval is.

Insp. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê die mans, van wie twee klapmusse gedra het, het ingekom deur die slot van die veiligheidshek by die voordeur oop te breek.

Hulle het geld gevra.

Volgens Tselanyane het een van die mans mev. Von Brandis gegryp en gesê hy gaan haar verkrag. “Hy het haar nagklere probeer uittrek, maar kon dit nie regkry nie.

“Hy het toe warm plastiek op haar bene gedrup. Sy het met die aanvaller gestoei en hy het haar eetkamer toe gevat waar hy die telefoondrade afgesny het. Hy het haar probeer versmoor deur ’n lap oor haar gesig te druk.”

Daarna het hy haar hande met die telefoondrade vasgebind.

Intussen het die ander twee aanvallers mnr. Von Brandis met ’n byl in die slaapkamer aangeval.

Mev. Von Brandis het ontsnap en in die tuin gaan wegkruip.

Mnr. Barend von Brandis, een van die egpaar se seuns, sê die die huishouding is bekend aan die aanvallers, want hulle wou weet waar sy broer, Jacques, wat op die plaas woon, was. Hy was nie dié nag tuis nie.

Die aanvallers het die kluis uit die kas in die kamer gehaal, maar kon dit nie oopkry nie. Hulle het met die egpaar se Mercedes-Benz probeer vlug, maar die veiligheidstelsel is geaktiveer. Hulle het toe die ligte Hyundai-vragmotor gevat, die kluis met sowat R12000 kontant in agterop gelaai en daarmee en ’n .22 Bruno-geweer gevlug.

’n Boer het die voertuig om 07:30 verlate op die Rosmincol-gruispad sowat 2km buite Koster gekry.

Mev. Von Brandis is na die bure vir hulp.

Mnr. Von Brandis is met ernstige kopbeserings in die Zee-rust-hospitaal opgeneem en gistermiddag na die waakeenheid van die Netcare Ferncrest-hospitaal in Rustenburg oorgeplaas.

Mnr. Danie Conradie, ’n buurman van die Von Brandisse, sê ’n aangrensende plakkerskamp is die oorsaak van baie probleme in die omgewing. Talle werkers by die leiklipgroewe in die omgewing woon daar, maar dit is indringers van buite wat probleme veroorsaak. Hy beraam dat miljoene rande se skade al deur veral diefstal en veediefstal gely is.

Na verneem word,val klagte by die polisie op dowe ore. Soms is die verskoning dat voertuie nie beskikbaar is nie. En klaers kry nie saaknommers nie.

Ene supt. Seboco van die polisie se provinsiale hoofkantoor in Potchefstroom het Dinsdag glo op die Von Brandis-plaas met 11 boere van die omgewing oor hul klagtes oor die polisie gepraat.

– Beeld

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/87c4106a8f5f4b0a86f73169c07a2db1/12-02-2010-03-19/Egpaar_met_byl_oorval_kortn%C3%A1_polisie_klagtes_aanhoor_

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: