Julius dreig jeuggroep

Die sangeres Sunette Bridges het gister protesgangers by die Mary Fitzgeraldplein toegespreek. Die groep het vergader uit protes teen mnr. Julius Malema se “Kill the Boer”-uitsprake.

2010-03-19 22:49

Pieter-Louis Myburgh

ANC-amptenare het gister bladsye met die name van 1 600 slagoffers van plaasaanvalle verskeur, dit in die straat gegooi en daarop getrap.

Mnr. Ernst Roets, leier van AfriForum Jeug, mnr. Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, en die sangers Steve Hofmeyr, Sean Else en Gerrie Pretorius het die name met die slagoffers na Luthuli-huis, die ANC se hoofkantoor in Johannesburg, gevat.

Polisielede het die groep toegang tot die gebou geweier.

Die groep sou aanvanklik ’n optog vanaf Mary Fitzgeraldplein tot by Luthuli-huis in die Johannesburgse middestad lei.

Daarna sou hulle die lys met die slagoffers se name en ’n memorandum aan mnr. Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga, oorhandig.

In die memorandum word kapsie gemaak oor Malema se onlangse “Kill the Boer”-uitsprake.

Malema en Roets het eergister vergader om te gesels oor die oorhandiging van die dokumente en die optog.

Malema het glo op die vergadering daarop aangedring dat AfriForum Jeug ’n klag van haatspraak wat hulle teen hom ingestel het oor die “Kill the Boer”-slagspreuk terugtrek.
AfriForum het geweier.

Malema het daarop glo toestemming tot die optog na Luthuli-huis geweier en sy voornemens om die memorandum in ontvangs te neem, onttrek.

“As julle môre by Luthuli-huis protesteer, gaan dit wat met die IVP (in 1994 by Shell-huis) gebeur het, homself herhaal,” het Malema daarna na bewering in sy kantoor aan Roets en drie ander AfriForum-jeuglede gesê.

Dit is ’n verwysing na die Shell House-slagting, toe 19 mense in 1994 gesterf het nadat veiligheidswagte van die ANC losgebrand het op ’n groep optoggangers van die IVP.

Toe Roets by Malema wou weet wat hy hiermee bedoel, het Malema glo gesê AfriForum moet “kom en dan kyk ons wat gebeur.”

AfriForum het in reaksie hierop besluit om voort te gaan met die vergadering by Mary Fitzgeraldplein.

Sowat 100 optoggangers, wat ’n aantal naasbestaandes van plaasmoordslagoffers ingesluit het, het gister “Stop Malema”-plakkate op die plein geswaai.

“Hierdie is nie ’n kleuterskool waar jy cowboys en crooks speel nie, hier gaan regte mense dood as jy súlke uitsprake maak,” het Kriel by die byeenkoms oor Malema se uitlatings gesê.

Ná die byeenkoms het ’n kerngroep van AfriForum na Luthuli-huis gegaan om die memorandum te oorhandig. By hul aankoms is hulle deur die polisie toegang geweier tot die gebou. ANC-amptenare het die memorandum saam met die lyste met name opgeskeur en vertrap.

Mnr. Floyd Shivambu, woordvoerder van die ANC-jeugliga, het gister ontken dat daar eergister ’n vergadering tussen Malema en Roets plaasgevind het.

Volgens hom het Malema ook nie ooreengekom om enige dokumente van AfriForum Jeug te ontvang nie. “Daar was Donderdag geen amptelike vergadering nie. Daai man (Roets) jok. Hy is ’n leuenaar.”

Shivambu het egter self eergister se vergadering in ’n SMS – wat Beeld gesien het – aan Roets bevestig.

Drie lede van AfriForum Jeug het bevestig hulle was eergister saam met Roets in Malema se kantoor.

Hulle het ook bevestig dat hulle die intekenvorm by Luthuli-huis ingevul het.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/45c2581ce77a4fe7ad2cc870358b4fa0/19-03-2010-10-49/Juius_dreig_jeuggroep

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: