Man ongedeerd nadat boef sneller 3 keer trek


‘Jy koes en keer’. Mnr. Anton Gerber en sy seuntjie Ethan. Gerber het ongedeerd daarvan afgekom nadat ‘n rower drie keer op hom geskiet het. Foto: Lauren Mulligan

2010-04-01 10:41

Jody Nel

Die eerste twee keer toe ’n rower ’n pa van Malanshof, Randburg, probeer skiet het, wou die geroeste vuurwapen nie afgaan nie. Die derde skoot was skrams mis.

“Jy koes en keer en kyk maar wat gebeur,” het mnr. Anton Gerber gister gesê.

Hy het vertel hy het omstreeks 05:30 by sy huis uitgegaan om ’n sigaret te rook toe ’n man hom oorval, ’n pistool op hom rig en hom by die huis indwing. Die man het ’n klapmus gedra, maar Gerber kon ’n litteken op sy regterwang sien.

“Ek wou hom uit die huis hou, maar hy wou nie buite bly nie.”

Gerber se vrou, Dawn, het intussen wakker geword en was in die gang toe sy die vuurwapen se loop teen haar man se kop sien. Sy het hul seun Dylan (13) wat in die sitkamer geslaap het, gegryp en agter die kroeg in dié vertrek weggekruip.

Hul ander seun, Ethan (2), het in sy kamer geslaap.

In die gang op pad na sy slaapkamer het Gerber sr. gehoor hoe die rower die sneller trek, maar niks het gebeur nie. In die kamer het die rower weer onsuksesvol probeer om hom te skiet.

Volgens Gerber sr. het die vuurwapen soos ’n pistool gelyk en was dit erg geroes.

Hulle is na ’n ander vertrek, waar Gerber sr. hul rekenaar in ’n sak moes sit.

Daarna moes hy dit in hul Volkswagen Golf laai. Buite wou Gerber sr. die vuurwapen gryp. Die rower het die sneller weer getrek. Dié keer het die koeël die grond voor Gerber se voete getref.

Die rower het toe in die Golf geklim en Gerber sr. het die huis ingehardloop en die hek oopgemaak.

Die rower kon die Golf nie aan die gang kry nie en het weggehardloop met Gerber sr. se beursie en sy vrou se selfoon.

Me. Gerber het haar selfoonnommer ná die voorval gebel. Die rower het dit beantwoord en vir haar gesê: “F**k you, b**ch!”

Volgens die Gerbers het die polisie flink op hul noodoproep gereageer, onder meer die erf deurgesoek en vingerafdrukke geneem.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/2170a8e1a6bb4b0ba30b43733965c5a0/01-04-2010-10-41/Man_ongedeerd_nadat_boef_sneller_3_keer_trek

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: