‘My broer se gesig is fyngekap’

2010-04-04 22:21

Linda de Beer

Ventersdorp. – “My broer se gesig is fyngekap. Dit was ’n wrede moord.”

Dit was gister die woorde van mnr. Eugène Terre’Blanche se enigste broer, Andries, aan tientalle emosionele boere en lede van die AWB by die ingang na Terre’Blanche se plaas buite dié dorp.

Hy het boere gevra om môre in hul massas na die Ventersdorpse landdroshof op te ruk vir die verskyning van sy broer se twee vermeende moordenaars, wat glo vir hom gewerk het.

Die haatspraak teen boere deur mnr. Julius Malema, ANC-jeugligaleier, hou volgens Terre’Blanche se familie, boere en AWB-lede direk verband met die aanval op hom.

Terwyl die familie mense gemaan het om kalm te bly, het mnr. André Visagie, sekretaris-generaal van die AWB, prontuit verklaar dié organisasie gaan sy leier se dood wreek.

“Die AWB het besluit hy het geen ander keuse as om homself te bewapen en ons leier se dood te wreek nie,” het Visagie gesê. Tog het hy lede gemaan om vir eers “rustig” te bly sodat Terre’Blanche “in vrede” begrawe kan word.

Mnr. Nathi Mthethwa, minister van polisie, het geweier om hom oor ’n “politieke saak” uit te laat toe hy herhaaldelik gevra is oor Malema se uitsprake en of die regering enigsins optrede teen hom beplan.

“Kom ons bly kalm en laat die polisie toe om by die kern van die saak uit te kom,” het Mthethwa op ’n mediakonferensie in die raadsaal van die Ventersdorpse munisipaliteit gesê.

“Ek gaan nie by ’n politieke bespreking ingesleep word nie. Eugène Terre’Blanche is vermoor. Die polisie ondersoek hoekom dit gebeur het.”

Mthethwa en genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, het Terre’Blanche se weduwee, Martie, by die egpaar se dorpshuis besoek voordat hy boere en ander familielede op die plaas te woord gestaan het.

Die media is nie toegelaat om die plaas te betree nie. Forensiese deskundiges was laat gistermiddag nog op die toneel besig.

Twee plaaslike polisielede het eergistermiddag laat op Terre’Blanche se verminkte lyk op sy bed in die opstal van sy plaas, Witrandjiesfontein, afgekom.

Dit was nadat die polisie ’n oproep oor ’n beweerde aanranding op die plaas gekry het.

’n Kapmes en ’n knopkierie is by die lyk gekry. Alle aanduidings is dat hy geslaap het toe hy aangeval is, het kapt. Adéle Rautenbach, polisiewoordvoerder in Noordwes, gesê.

Beeld het verneem ’n kapstok het in ’n ander vertrek in die huis omgeval gelê, terwyl dit ook gelyk het of daar met Terre’Blanche se wit Corsa-bakkie gepeuter is om dit te steel.

’n Venster van die huis is gebreek, maar die polisie het toegang verkry deur ’n deur wat nie gesluit was nie.

Die twee verdagtes, onderskeidelik 15 en 28 jaar oud, is kort ná die moord aangekeer waar hulle langs ’n grondpad in die distrik geloop het.

Terre’Blanche se selfoon is glo in hul besit gevind. Hulle is na verneem word gister teruggeneem na die toneel om uitwysings te doen.

Die boeregemeenskap het inligting verwerp dat ’n loongeskil die motief was. Daar was glo ’n woordewisseling tussen Terre’Blanche en die verdagtes oor agterstallige betaling.

“Hoe onderhandel jy met iemand as hy vas aan die slaap in sy bed is? Klim jy deur ’n venster om met iemand te onderhandel?” het ene Sean, ’n plaaslike boer, gesê.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/a504e75b86e14ae2ac4d2f6e04d50ca2/04-04-2010-10-21/%E2%80%98My_broer_se_gesig_is_fyngekap%E2%80%99

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: