Eugene Terre’Blanche: ‘n moord te veel

Geskryf deur Dan Roodt
Vrydag, 09 April 2010 07:39

Onderweg na sy begrafnis

Ongekende dinge is besig om in Suid-Afrika te gebeur. Sedert die begin van 2010, van 8 Januarie af toe Beeld eintlik as ‘n grap op sy webwerf gevra het of sy lesers graag in ‘n volkstaat sou bly, is iets onder Afrikaners aan’t broei. Sowat ‘n driekwart van Beeld se aanlynlesers het voorwaardelik of onvoorwaardelik gesê dat hulle in ‘n volkstaat sou wou bly.

Toe word Malema op ons losgelaat, wat een opruiende uitspraak na die ander maak. Dit gaan oor daardie twee biologiese elmente: grond en ras. Malema sing “Die lafaards gaan hardloop” en “Skiet die Boere”. Oulike en onskuldige – so word ons verseker – vryheidsliedjies. Op besoek aan Zimbabwe werf die einste Julius ZANU-PF se steun vir plaasbesettings en “revolusie” in Suid-Afrika. By ‘n myn 160 kilometer van Harare af, kondig Malema so ewe aan dat hulle van einde 2010 af gaan begin om plase by blanke boere te vat.

En toe kom die moord op Oom Eugene, soos sy volgelinge hom noem. Hy was al 69 en taamlik afgekoel van die dae toe Jani Allen, sy beweerde minnares, in die Sunday Times geskryf het: “Right now I’ve got to remind myself to breathe … I’m impaled on the blue flames of his blowtorch eyes.”

Persoonlik het ek hom nie geken nie. Ek het hom half gegroet by die sogenaamde “volksaamtrek” verlede jaar by die Vegkopterrein, ‘n teleurstellende byeenkoms vol emosie en oproepe tot God, maar weinig wol.

In lewe was ET die gunstelingstereotipe van die buitelandse pers wat veronderstel was om die onredelike, militaristiese, fascistiese Afrikaner uit te beeld. Sy dood, ‘n tipiese plaasmoord wat ook – wie weet? – ‘n politieke sluipmoord kan wees, het egter van hom ‘n martelaar gemaak.

Hoewel ek en baie ander uit ‘n heel verskillende stedelike, selfs kosmopolitiese milieu kom, laat sy moord ons met die gevoel van: “Dis ‘n moord te veel!” En: van nou af is dit, soos Alexandre Dumas se drie musketiers gesê het: “Een vir almal en almal vir een.”

Vandag gaan ek en waarskynlik duisende ander Afrikaners by Eugene se begrafnis wees, verenig in ons medelye, woede, maar ook: vrees. Want die spel wat die ANC en sy jeugleier tans speel en dreigemente van grondroof, ‘n “Zimbabwe” en grootskaalse geweld wat die bevrydingsbeweging tans maak, laat jou nekhare orent staan. Ons is stelselmatig ontmagtig deur die afskaffing van die kommando’s en die nuwe wapenwet terwyl die ANC tans in beheer van al die ou Suid-Afrika se wapens is, plus die tonne wapens van Operasie Vula van die vroeë negentigerjare wat nog nooit gevind is nie.

Indien die ANC met die samewerking van ZANU-PF ‘n volksmoord teen ons beplan, het hy sy huiswerk baie, baie goed gedoen. Want ons is nou goed in Dingaan se kraal ingelei. Lammers ter slagting. Die naïewe, goedgelowige, godvresende Afrikaner het weereens sy wapens buite die kraal gelaat. De Klerk wou maar net sy lekkertjie van die Swede, sy Nobelprysie gehad het. En daarvoor het hy ons roekeloos aan die genade van Afrika oorgelaat.

Eugene se gesig is met ‘n panga vermink asof hy ‘n blote Afrikaanse naambord langs die pad was wat nou met ‘n ander naam vervang gaan word. Sy broek is uitgetrek, om een of ander duistere rede.

Sy verontmensliking het ‘n simbool van die Afrikaner se verontmensliking onder hierdie bose, gewelddadige en rassistiese bestel geword. Hy was al 69, bejaard, godsdienstig en eintlik skadeloos. Juis daarom het hy ‘n teiken geword, soos soveel ander.

Wat nou vir hierdie land voorlê, nogal op die vooraand van die Wêreldsokkerbeker, kan niemand voorspel nie. Regoor die land is groepe boere en selfs stedelinge besig om voor te berei vir die volgende toneel in die drama wat heel moontlik ook in bloed geskryf gaan word.

Vandat ek klein was en selfs tydens Verwoerd se begrafnis, het ek nog nie die Afrikaner so verenig, vasberade en aan mekaar gebind deur taal, bloed en geskiedenis gesien soos nou nie. Ons is weer die klein wit stam, nakend op die vlakte, wat die naderende horde moordlustiges moet afwag.

Eugene se dood was die druppel wat die emmer laat oorloop het. Dit het baie onverwags gekom, hoewel ek al ‘n hele paar jaar voorspel dat dit op so iets sou uitloop. Leierskap is nou nodig om Suid-Afrika voor die afgrond van etniese en rassekonflik weg te ruk en ons op ‘n ander baan te plaas. Ongelukkig is daar in Zimbabwe meer leierskap as in die ANC. Mev. Zille se Engelse sarkasme gaan ook nie help as die outomatiese wapens in die hande van dansende vyftienjariges soos in Liberië of op die SABC-nuus op Ventersdorp begin knetter nie.
Dus gaan Malema en sy aspirant-volksmoordenaars die gang van die gebeure dikteer en sal die Afrikaner nou noodwendig móét opstaan om ‘n tragedie te verhoed.

Oorsprong:Praag
http://praag.co.za/dan-roodt-magazine-178/7746-eugene-terreblanche-n-moord-te-veel.html

One Response to “Eugene Terre’Blanche: ‘n moord te veel”

  1. Ek wil jou komplimenteer op jou weldeurdagte en goed bewoorde mening. Self sou ek dit nie beter kon stel nie. Ek is 48 jaar oud, 'n vrou, 'n weduwee al vir 11 jaar met twee tieners (seun en dogter) wat op die drumpel van hulle lewe staan. Ons is al 3 keer beroof, helder oordag, 2 keer is my motor se ruit al uitgeslaan en beroof, 2 keer daarna het my dogter betyds die aanvaller gesien kom deur die Genade, en kon ons betyds wegjaag, een ander keer is ek 5 uur deur my buite-alarm wakker gemaak en het ek in my huis gestaan en kyk hoe twee rowers my skuifdeur probeer oopbreek terwyl ons in die huis is! Hulle het weggehol nav die alarm se nood-knoppie wat ek aanhoudend gedruk het en kon ek sien dat hulle gewapen was. Ek het my kinders godvresend en gematigd grootgemaak, maar hulle sien self dat die blanke Afrikaner ontman is en voel dat hulle nerens hoort nie. Die probleem is dat die meerderheid mense vandag nie meer analities dink nie en gebreinspoel word deur 'n Goddelose waarde- en onderwysstelsel. Ons word geintimideer deur dreigemente en die stil dood wat om elke hoek en draai skuil en kruip soos lafhartige muise weg agter hoe heinings en tralies.Erens moet 'n ware leier wakker word en opstaan en takties terugslaan twv behoud van die eie en veral behoud van ons geloof.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: