Die ‘aanvaarbare’ teikens


’n Trekker met ’n sleepwa met doodskiste ry eergister verby betogers in Brits, Noordwes. Die kiste verteenwoordig die slagoffers van plaasmoorde. Foto: David Mbekwa

2010-04-16 00:02

Die misdadige element wat by plaasmoorde betrokke is, behoort nie outomaties politieke of rassemotiewe uit te skakel nie, skryf James Myburgh

Die grusame moord op mnr. Eugène Terre’Blanche, AWB-leier, het plaasmoorde weer onder die vergrootglas geplaas.

Volgens polisiestatistieke was daar tussen 1994 en die middel van 2007 9 378 plaasaanvalle wat tot 1 437 moorde gelei het. In die middel van 2007 het die polisie opgehou om die syfers bekend te maak.

Wanneer ’n mens in ag neem dat daar sowat 40 000 kommersiële boere in Suid-Afrika is (20 000 minder as ’n paar jaar gelede), laat die syfers ’n mens steier.

Die vraag is vroeër gevra of daar die een of ander kwaadwillige politieke motief agter dié moorde skuil en mnr. Julius Malema, ANC-jeugleier, het dié kommer die laaste tyd aangevuur met sy sing van die woorde “skiet die Boer” en die ANC se aanvanklik goedkeurende verduideliking dat dit sy reg is om die struggle-lied te sing.

Maar soos in die Mail & Guardian opgemerk is word plaasmoorde nie behoorlik verstaan nie.

’n Deel van die probleem is dalk die manier waarop daar dikwels aangeneem word dat die “misdadige” element van ’n moord (of rooftog of diefstal) outomaties enige ander politieke of rassemotief uitskakel.

Op sigwaarde lyk hierdie outomatiese uitskakeling na ’n wanopvatting.

Kom ons kyk na die ekstreme: die vervolging van welvarende minderhede – ongeag of dit in Duitsland, Uganda of Zimbabwe is of was – het feitlik altyd gepaardgegaan met die roof van hul eiendom.

So ’n proses van uitwissing word gedryf deur ’n hele heksebrousel van motiewe wat insluit wrewel, gierigheid, haat en uiteindelik vrees vir geregtigheid en wraak.

’n Behoorlike studie van plaasmoorde moet die verhouding (indien enige) tussen die misdadige en politieke ontleed. Die motiewe van die oortreders, asook hul politieke agtergrond of gebrek daaraan, moet ontrafel word.

Sover ek weet is dit nog nooit oortuigend gedoen nie.
Die Daily Dispatch in die Oos-Kaap het egter ’n briljante stuk ondersoekende joernalistiek gedoen waarin die aanvalle op Somaliese immigrante bekyk is. Dit bied ’n boeiende blik op hoe vooroordeel, misdadigheid en regerings-onverskilligheid ’n dodelike mengsel kan vorm.

In sy ondersoek het die joernalis Thaduxolo Jika ’n reeks onderhoude in die tronk gevoer met Andile Tunzana, ’n misdadiger verantwoordelik vir die moord op minstens vier Somaliese immigrante in die Oos-Kaap.

Tunzana het gesê: “Ons het geweet hulle het baie geld in hul winkels en geen vuurwapens om mee terug te veg nie. Wanneer hulle probeer terugba-klei het, het ons hulle doodgeskiet.

“Niemand in die township het ooghare vir hulle gehad nie omdat hulle ‘grigambas’ (Somaliërs) is.
“Ek wou nie regtig iemand beroof wat soos ek lyk nie, want ek weet hulle sukkel dalk om te oorleef.
“Die Somaliërs was net ander, vreemde mense met geld en niemand het vir hulle omgegee nie.”

Uit Jika se beriggewing is dit duidelik dat Tunzana gedryf is deur ’n kombinasie van misdadige, opportunistiese en rassemotiewe.

Somaliese winkeleienaars is geteiken, nie net omdat hulle geld gehad het om te roof nie (die misdadige), maar ook omdat hulle beskou is as sagte en moreel aanvaarde teikens.

Die feit dat die plaaslike gemeenskap traak-my-nie-agtig is oor die Somaliërs se lot, het dit makliker gemaak om daarmee weg te kom.

Baie van die moorde op (dikwels ou) wit boere word waarskynlik deur ’n soortgelyke stel motiewe gedryf.

Boere is geïsoleer en weerloos.

Hulle het ook waardevolle goedere (dikwels vuurwapens) wat dit die moeite werd maak om hulle te teiken.

Vir baie jong, misdadige psigopate is dit waarskynlik genoeg rede om hierdie teikens aan te val.

Die kernvraag is egter of boere beskou word as moreel aanvaarbare teikens net soos wat aanvalle op Somaliese winkeleienaars geregverdig word.

Dis in hierdie konteks dat die aandadigheid van die ANC beoordeel moet word. Die regerende party is minstens skuldig aan kwaadwillige nalatigheid vir die misdade.

Deel van die rede hoekom hierdie vlaag van misdaad vir so lank onkeerbaar voortgaan, is die feit dat die ANC min doen om boere van sagte teikens in harde teikens te omskep.

Hul ingryping (soos om die kommando’s te ontbind en wit mense uit die polisiemag te dryf) het inderwaarheid die teenoorgestelde vermag.

Dit is ook moeilik om te sien hoe Malema se retoriek nié ’n soort morele groen lig is aan diegene wat dit oorweeg om boere te teiken nie.

Dis nie net die sing van “skiet die Boer” wat ’n dreigement is nie.

In ’n toespraak aan ’n Black Management Forum-konferensie in Oktober verlede jaar het hy basies gesê die gewillige verkoper-beginsel is onsin omdat dit nie die boere se grond is nie.

“Met die onderhandelings voor 1994 het hulle (die wit mense) aan ons gesê ons moet die gewillige verkoper/koper-idee aanvaar. Maar nou moet ons sê: ‘Ons kan nie grond koop wat julle by ons gesteel het nie.’”

Die afgevaardigdes het gelag. Wat Malema inderwaarheid sê, is: Is dit werklik ’n misdaad om “gesteelde” eiendom terug te neem?

Die werklike probleem is dat Malema nie die liedjie of hierdie propaganda uitgedink het nie. Hy verwoord bloot die patologie in die ANC.

Soos Malema onlangs gesê het, sing hy hierdie lied al vandat hy op negejarige ouderdom by die ANC aangesluit het. Niemand het toe gekla nie.

Waaroor gaan al die bohaai nou?

Myburgh is redakteur van Politics­web.co.za en het ’n doktoraat oor Thabo Mbeki se ANC aan Oxford verwerf.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/In-Diepte/Die-aanvaarbare-teikens-20100415

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: