SA het ’n korrupte, verkeerde waardestelsel geërf, sê Mantashe

2010-04-16 22:11

Suid-Afrika het ’n “korrupte en verkeerde” waardestelsel geërf, het mnr. Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, gister gesê.

“Wat ons geërf het, het ons eintlik gekorrupteer en dus bestuur ons eintlik ’n korrupte stelsel en ’n verkeerde waardestelsel… die nuwe regering (ná 1994) het ’n goed gevestigde waardestelsel geërf wat indivi-duele verkryging van rykdom as die hele samelewing se belangrikste waarde gestel het,” het Mantashe in die Johannesburgse stadsaal tydens die eerste Violet Seboni-gedenklesing gesê.

Seboni was Cosatu se tweede adjunkpresident en sy is in April verlede jaar in ’n motorongeluk dood op pad om stemme vir die ANC in die verkiesing te werf.
Voorts het Mantashe oudpres. Thabo Mbeki aangehaal toe dié gesê het: “In die konteks van kapitalisme se ontwikkeling in ons land is die wit samelewing georganiseer volgens die samelewingswaarde van individuele verkryging en materiële welvaart, geproduseer deur die swart meerderheid te onderdruk en uit te buit.”

Mantashe het dit as histories bestempel. “Omdat die wit minderheid die dominante sosiale mag in ons land was, het dit in ons hele samelewing (ook die onderdruktes) ’n diepgewortelde begrip laat posvat dat persoonlike welvaart die enigste ware maatstaf is van individuele sukses en sukses in die samelewing,” het Mantashe bygevoeg.

Samelewingswaardes het dus geskuif van “revolusionêre moraliteit tot materiële eienaarskap”.

Volgens Mantashe moet die land daaraan herinner word dat die lewe nie gaan oor “sake doen” nie. “Die jeug moet ingelig word oor deelname aan die akademiese wêreld, politiek, vakbonde, NRO’s en ander strukture en sektore wat die samelewing dien as ons ons samelewing wil red. Om ons mense te dien, nie die bymekaarmaak van geld nie, is die definisie van sukses.”

“Wysheid, nederigheid en harde werk” moet die beeld wees wat rolmodelle in die samelewing uitdra, het Mantashe gesê.

Hy het voorts, nes die ANC in Gauteng, gemaan teen die klaarblyklike “opkoms van regses” en aangevoer hulle “kry meer selfvertroue en is meer gewillig om kanse te waag”.

Die ANC in Gauteng het gesê dit is duidelik te sien in die hofstryde wat die organisasie AfriForum die jongste tyd voer om vooruitgang teen te werk.

“Dit is ons verantwoordelikheid om aan dié kwessie aandag te gee omdat dit die duidelikste en mees flagrante uitdaging tans is vir ons beweging.”

Die regtervleuel gebruik mnr. Julius Malema as ’n “sneller” om sy eie agenda te bevorder, het hy bygevoeg. “Alle comrades moet uit daardie ruimte beweeg sodat die regses se ware bedoelings duidelik kan word.”

Die dra van die Vierkleur en ander vlae uit die apartheidsera moet nie afgemaak word as ’n mindere kwessie nie, het hy voorts gesê. “Dit misken vooruitgang duidelik met die bedoeling om vooruitgang te stuit… hul bedoelings sal ontbloot word sonder dat ons ’n sondebok verskaf.” – Sapa

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/SA-het-n-korrupte-verkeerde-waardestelsel-ge%C3%ABrf-s%C3%AA-Mantashe-20100416

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: