‘Jy lê daar as ’n pa, maar kan nie jou kind beskerm’


Past. Johan van Wyk vertel hoe hy en sy ma, me. Alida van Buuren, in hul huis in Northcliff, Johannesburg, aangerand en beroof is. Foto: Herman Verwey

2010-04-27 23:19
André Damons

’n Vyfjarige meisie het ná ’n huisrooftog in Northcliff, Johannesburg, by die skool prentjies geteken van haar pa en ouma wat op die grond lê met bloed wat by hul koppe uitkom.

“Hulle (die aanvallers) gee nie om oor die kinders en oumense nie. Hulle is selfsugtig; hulle is diere,” het past. Johan van Wyk (48) van die Solid Rock-kerk gister vertel.

Sy dogtertjie, Lindie, het langs haar ouma, me. Alida van Buuren (71), gelê en huil terwyl drie mans Van Buuren en haar seun met ’n koevoet en wielsleutel aangerand en geskop en geslaan het.

Van Wyk het gesê die aanvallers het aanhoudend gesê: “We are going to kill you.”

Aan sy ma het hulle gesê: “We are going to rape you.”

Die aanval was verlede Woensdagaand, die dag voordat ’n eenjarige baba en haar oppasser wreed in Robindale, ’n paar kilometer daarvandaan, aangerand is.

Die aanvallers het die agterdeur van die huis oopgesluit met sleutels wat hulle by die huiswerker afgevat het.

Van Wyk was in sy slaapkamer toe die mans sy ma en Lindie in haar kamer oorval.

Hulle het haar gedwing om hom te roep om sy kamerdeur oop te sluit waarna hulle sy ma ook in sy kamer ingeboender het en Lindie met ’n koevoet ingepluk het.

Die aanvallers het hulle toe op die grond neergegooi en hulle aanhoudend geskop en met die koevoet en wielsleutel aangerand.

Van Wyk het probeer om sy hand oor sy dogtertjie te hou om haar te kalmeer.

Die booswigte het hul hande met elektriese kabels agter hul rûe vasgebind.

“Hulle het gesê die ADT-wag het gesê ons het ’n klomp geld in die huis en wou weet waar die dollars en wapens is. Ek het hulle gewys waar die een kluis is,” het hy gesê.

Van Wyk-hulle is nie kliënte van ADT nie.

Van Buuren het haar been tydens nog ’n slanery oor Lindie probeer hou om haar te probeer beskerm.

Een van die aanvallers het die huiswerker en haar twee kinders – ’n tienjarige meisie en twee maande oue baba – ook in die kamer ingebring.

Al drie die rowers is na ’n tweede kluis in die spaarkamer. Dit het Van Wyk-hulle ’n kans gegee om te probeer alarm maak.

Hy het eers aan die huiswerker gesê om die deur toe te druk en die noodknoppie te druk, maar sy was te geskok om te beweeg. Hy het toe self opgespring en dit gedoen.

“As jy daar lê, voel jy magteloos,” het Van Wyk gesê.

“Jy lê daar as ’n pa en seun, maar jy kan nie jou kind en ma beskerm nie. Jy kan nie eens jou arms om jou kind sit nie. Jy worrie nie oor die geld en goud nie en wonder net of julle gaan lewe.”

Van Buuren het onder meer beserings aan die kop, arms en bene opgedoen, terwyl haar seun kop- en rugbeserings het.

Studentekonst. Michael Kgatla, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Jy-l%C3%AA-daar-as-n-pa-maar-kan-nie-jou-kind-beskerm-20100427

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: