Inwoners mag nou boewe uit hul buurt hou

2010-04-27 23:22
Jeanne-Marié Versluis

Die inwoners van nege strate in die woonbuurte Eldoraigne, Pretoria, en Wierdapark, Centurion, kan met tydelike toegangsbeheerstrukture teen misdaad beskerm word nadat ’n skikkingsooreenkoms daaroor met die Tshwane-metroraad bereik is.

Die skikking, wat die metroraad met die Eldoraigne-uitbreiding 18-veiligheidsdorp bereik het, is ’n bevel van die hooggeregshof in Pretoria gemaak.

Hiervolgens het die raad toestemming aan die veiligheidsdorp gegee om die strukture op te rig hangende die oorweging en finale goedkeuring daarvan kragtens die raad se beleid en die Wet op die Rasionalisering van Plaaslike Regeringsake.

Indien die raad nie finale goedkeuring daarvoor gee nie, sal die veiligheidsdorp binne sewe dae ná so ’n besluit die strukture verwyder en die betrokke paaie rehabiliteer, lui die ooreenkoms.

Luidens die veiligheidsdorp se hofstukke is sy doel om die belange te bevorder van inwoners van Eldoraigne se uitbreiding 18 en Wierdapark se uitbreiding 2.

In 2000 is besluit om aansoek te doen kragtens dié wet om val- en skuifhekke op openbare paaie in dié gebied op te rig om misdadigers uit te hou.

Luidens die hofstukke het inwoners op eie houtjie hoër en elektriese heinings, en kringtelevisiekameras aangebring, asook buurtwagte en gewapende patrolliedienste aangestel.

Hoewel van dié maatreëls misdaad verlaag het, “het die vlak van misdaad op onaanvaarbaar hoë vlakke voortgeduur”.

“Talle mense het die gebied verlaat en verhuis na veiliger gebiede of die land verlaat. Dié wat agtergebly het, het in konstante vrees geleef.

Gebiede wat suksesvol toegangsbeheer ingestel en bykans ’n 100%-daling in misdaad beleef het binne hul afgesperde gebiede, het ’n buitengewone styging in hul eiendomswaardes gesien…”

Mnr. Johannes Bernardus Wessels Meyer, ’n sakeman van Wierdapark en voorsitter van die veiligheidsdorp se direksie, sê in ’n verklaring van Januarie 1998 tot Julie 2000 het die misdaadvoorvalle in dié gebied van 36 tot 88 voorvalle per maand gestyg.

“Dit het duidelik geword dat die polisie nie die vermoë het om misdaad te bekamp of selfs voldoende reaksie te kan verskaf nie.”

Om die aansoek om die oprigting van die strukture te kon indien, is ’n art.21-maatskappy gestig.

Daar is in Mei 2001 gestem oor die saak en 75% van die huishoudings in die gebied het die voorstel gesteun.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Inwoners-mag-nou-boewe-uit-hul-buurt-hou-20100427

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: