‘Skiet die Boer’ lei tot skend van graf


Mnre. George Kiratizidis (21), Marthinus Christopher Vorster (20), Ruan Rufus Louw (22) en André Stroh (21) gister in die Phalaborwa-landdroshof. Foto: Lucky Nxumalo

2010-05-15 00:10
Marietie Louw-Carstens

Phalaborwa. – Die vier jong mans van hier wat van hoogverraad en terrorisme beskuldig word, het glo geen bande met regse organisasies nie.

Die landdroshof in dié dorp het gister gehoor hulle het opgetree weens mnr. Julius Malema, president van die ANC-jeugliga, se gewraakte “skiet die Boer”-uitlatings verlede maand.

Mnre. George Kiratizidis (21) en Marthinus Christopher Vorster (19) het gister tydens hul borgtogaansoeke erken hulle het die graf van mnr. Norman Mashabane, voormalige ambassadeur in Indonesië, in die dorp geskend.

Hulle hou egter vol hulle is onskuldig op alle ander aanklagte.

Albei mans het om verskoning gevra vir die grafskending.

”Ons was kwaad vir die ANC en mnr. Julius Malema oor sy uitlatings en het gepraat oor hoe ons onsself sal verdedig indien ’n burgeroorlog uitbreek,” het Kiratizidis in ’n verklaring, wat deur sy regsverteenwoordigers aan die hof voorgelees is, gesê.

Vorster het in ’n verklaring gesê hulle het “baie gedrink en toe ’n belaglike voorstel om Mashabane se graf te skend”, deurgevoer.

Vorster was verlede jaar ’n matriekleerling aan die Hoërskool Frans du Toit in die dorp. Mnr. Ruan Rufus Louw (22) se borgtogaansoek sal Woensdag aangehoor word.

Mnr. André Stroh (21) is op borgtog van R3 000 vrygelaat nadat adv. Shaun Abrahams SC van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) alle aanklagte, behalwe dié van die besit van onwettige ammunisie, teen hom teruggetrek het.

Die aanklagte waarop die mans teregstaan, wissel van terrorisme, die besit van plofstof, die vervaardiging van plofstof, die onwettige besit van ammunisie en grafskending.

Luidens die klagstaat is sewe pypbomme en ’n groot klomp ammunisie, waaronder ’n 9?mm-pistool en patrone vir AK47-, R5- en R1-aanvalsgewere, by die mans gekry.

Luidens Kiratizidis en Vorster se verklarings het die polisie, kort nadat hulle in hegtenis geneem is, hulle gevra of hulle aan die AWB, Boeremag of Suidlanders behoort.

Albei mans het dit ontken.

Kiratizidis en Vorster beweer hulle is deur die polisie aangerand.

’n Mediese verslag is ingedien wat sê Vorster se linkeroortrom het gebars weens ’n vermoedelik harde hou wat hy teen die oor gekry het.

’n Sielkundige verslag is ook ingedien waarin bevind is hy is op “die rand” van psigose en kan moontlik selfmoord pleeg. Hy het gister met ’n Bybel in sy hand in die beskuldigdebank gestaan.

Stroh, wat op 30 April in hegtenis geneem is, is in die Dendron-polisieselle aangehou. Hy beweer polisielede het hom op 2 Mei op pad na Polo-kwane vir ondervraging glo in die gesig en maag geslaan.

’n Pistool is glo langs sy kop gedruk. ’n Mediese verslag is ingedien wat sê Stroh is gesodomiseer. Hy gebruik tans anti-retrovirale middels in die vrees dat hy MIV/vigs opgedoen het.

“Hy is gesodomiseer deur ’n man genaamd Joe Black,” lui die verklaring. Kiratizidis het gevra om op borgtog vrygelaat te word omdat hy glo bilharzia het.

Sowat 300 lede van die ANC en ANC-jeugliga het gister buite die hof betoog en plakkate rondgeswaai met “War” opgeskryf.

Mnr. Francois Vos (36) en Stroh moet weer op 25 Junie in die hof verskyn.

Die saak teen mnre. Albertus Kruger (22) en Hendrik Venter (21) is verlede week teruggetrek.

Kiratizidis, Vorster en Louw bly in aanhouding tot Woensdag wanneer hul borgtogaansoeke hervat word.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Skiet-die-Boer-lei-tot-skend-van-graf-20100514

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: