Afrikanervolk se Gaugamela

deur Quintin Diederichs
2010-05-18 13:00

Hoeveel mense het al van Guagamela gehoor?

Nee, dit is nie ‘n bestanddeel in ‘n kerriedis of ‘n onkruid wat by Oppikoppi gekweek word nie. Plutarg, die Griekse historikus, beskryf Guagamela wel as ‘n kameelvormige koppie maar dit is baie ver van Northam in hedendaagse Irak geleë. Die gebeurtenis wat by Guagamela plaasgevind het is egter veel belangriker as die ligging self.

In die jaar 331 v.C. het Alexander die Grote met sy 40,000 dapper Masedoniërs die magtige Persiese Ryk by Guagamela verslaan. Volgens Plutarg was Alexander se magte op die slagveld vyf-en-twintig keer minder as die Persiërs. Alexander het hierdie geskiedkundige oorwinning behaal as gevolg van die geniale strategie wat hy toegepas het. Daar word beweer dat meer as 300,000 Persiese soldate daardie dag gesneuwel het.

Darius, koning van Persië, het op sy oormag van manskappe staat gemaak terwyl Alexander op nugter strategie gefokus het. Strategie, ongeag van omstandighede, is altyd belangriker as getalle.

Maar wat het hierdie gebeurtenis in antikwiteit met die moderne Afrikaner uit te waai? Baie.

Ons staar vandag byna dieselfde oormag in die gesig wat Alexander 2,341 jaar gelede voor hom by Gaugamela gesien het. Al verskil is dat die oorgrote meerderheid van ons nog nie in terme van strategie dink nie, eerder in terme van getalle.

Mense kan skaars kwalik geneem word omrede ons leiers nog volgens die ou reëls probeer speel of selfs ly aan ‘n pestilensie wat bekend staan as “nasiebou” terwyl ‘n kwart van ons bevolking, waarmee daar kwansuis ‘n nasie gebou moet word, alreeds die hasepad gekies het en dat daar verder derduisende Afrikaners wreed vermoor word in die Nuwe Suid-Afrika.

Strategie is al wat ons uit die sop uit gaan red. So wat staan ons te doen?

Afrikaners moet eerstens begin rigting kry en ophou om onsself te vergaap aan die omstandighede om ons. Dit help ook nie om terug te hunker na ‘n ou stelsel wat nie gewerk het nie. Dit is alles water onder die brug. Elkeen moet nou besef dat al hoe ons weer orde in ons lewens gaan bewerkstellig is sodra ons as vry burgers onsself gaan regeer binne ons eie staat.

Indien daar ‘n Afrikaner is wat vandag nog glo dat die ANC meer bevoeg is om oor ons volk te regeer as wat ‘n demokraties verkose volkseie regering daartoe in staat sal wees dan moet daardie persoon liewers sy opinie vir homself hou en sy kop gaan laat lees.

Met hierdie besef moet ons onsself daaraan herinner dat ons ‘n beskaafde en Godvresende volk is. ‘n Beskaafde mens wil vrede hê en is intelligent genoeg om te weet dat dit in ons beste belang is om ‘n vreedsame skikking te bewerkstellig. Spaar geweld vir die dag wanneer jy jouself of jou gesin moet verdedig teen ‘n aggressor wat nie die vredepad saam met jou wil stap nie. Daardie dag is verseker nie nou nie.

Vir die afgelope 19 jaar is daar ‘n groep Afrikaners wat besig is om te bou aan ‘n nuwe toekoms. Hulle het besluit om vreedsaam af te stig en beheer oor hul eie sake te neem. Hierbenewens het hulle hul eie grondgebied bekom, infrastruktuur gebou, opnuut begin boer en besighede in die lewe geroep.

Hul strategie werk. Bekom grond in ‘n yl bevolkte gebied, maak staat op jou eie arbeid en skep jou eie realiteite. Die resultaat is Orania: ‘n gebied waar Afrikaners in orde vertoef, hul taal onbeskaamd praat, hul kultuur met oorgawe uitleef en weet hoe dit voel om deel te wees van ‘n gemeenskap wat nie onder die gewig van misdaad verbrokkel nie.

Dit is die toekoms vir die Afrikaner in ‘n post-koloniale Afrika. Nêrens anders in die geskiedenis van Afrika het die blanke sy eie realiteit geskep deur uitsluitlik gebruik te maak van sy eie arbeid nie.

Die Afrikaners in Orania is die enigste blanke inboorlinge van Afrika wat die boeie van die ou kolonialistiese denkwyse gebreek het en as ‘n gemeenskap hul identiteit kon behou. Dit is wel ‘n transformasieproses maar een wat verskil van die transformasie wat in die Nuwe Suid-Afrika plaasvind aangesien Orania ten doel het om die Afrikaner te bemagtig, nie die teenoorgestelde nie.

Orania is die Afrikanervolk se Guagamela, koppie en al. Dit is waar ons ‘n geniale strategie toepas om die Afrikaner te bemagtig om as oorwinnaars uit die stryd te tree. Al waar ons strategie verskil met dié van Alexander is dat ons ‘n oorwinning behaal sonder dat ‘n druppel bloed gegiet word. Aldus kan duisende Afrikaners getuig dat hulle deel is van ‘n gemeenskap wat as ‘t ware besig is om vanuit Orania geskiedenis te maak.

Die valse indruk en gepaardgaande euforie met betrekking tot die “reënboognasie” wat die liberaliste op hul blou plakkate probeer verkondig is presies dit – vals.

Word ‘n vriend van Orania en kom skep ‘n toekoms waarop jy kan trots wees. Geen leier of party gaan vir jou kan doen wat jy in staat is om vir jouself te doen nie en Orania bied vir jou die ruimte waarin jy as Christen Afrikaner kan floreer.

Soos met enige oorwinning is die uitdaging groot en die opofferings vanselfsprekend maar sodra mens genoeg gekla het sal jy besef dat niks in jou lewe vir die beter gaan verander voor jy nie bereid gaan wees om saam met ons Orania uit te brei nie.

Nes jy is ek ook nie van plan om vir die res van my lewe ‘n slagoffer van die massas te wees nie. Ek glo in strategie, nie getalle nie. Sien julle in Orania!

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/MyBeeld/JouStorie/Afrikanervolk-se-Gaugamela-20100517

One Response to “Afrikanervolk se Gaugamela”

  1. Hallo, ek is seker heeltemal onnosel, maar ek weet nie presies waar Orania le nie. Ek neem aan dis in die Vrystaat.Ek is daarvoor om ons eie land te he, beslis. Al wat my bekommer is dat ons in die middel van Suid Afrika le. Wat van 'n hawe. Dit sal beter wees as ons ons eie land het wat grens aan die see, of hoe?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: